top of page

Blindes vat hande

Met dapper en stapper het almal Saterdag, 16 Maart,  opnuut weer bewys dat Kuilies gees het!

Vroeg die oggend het talle ywerige leerders met hul families en viervoetige mensvriende byeengekom en Hoërskool De Kuilen se pretloop met entoesiasme aangedurf. En al is jy nie ‘n sportfanatikus nie, was die stap – en drawwery plesierig en verfrissend

Tussen sekere klasgroepe het daar ‘n intense gevoel van mededinging geheers - in ‘n poging om die treffendste aan te trek, natuurlik. As dit nie swartsakke met kruisbande was nie, was dit spesiaal gedrukte T-hempde. Die matrieks met hul sonbrille en swart-en-wit styl, het egter die kroon gespan J.

Boonop het ‘n aantal leerders saam met blindes geloop en was hulle nie ‘n vreugdevolle spulletjie nie! Onder hulle was ‘n blinde egpaar wat ware liefde gewys het en ‘n drie-en-sewentigjare vrou het haar verjaarsdag gevier. Sy is deur ‘n skare mense toegejuig en Happy Birthday is gesing soos nét Kuilsrivier dit kan doen.

Die hoogtepunt  was ongetwyfeld die leerders se afwagtende krete en gebare om hul nommers te hoor tydens die prysuitdeing. Sugte van teleurstelling en frustrasie is geslaak, maar met meer as ‘n honderd pryse wat uitgedeel is, het die meeste darem met ‘n glimlag huis toe gegaan.

 

bottom of page